AS dr Johan Strasheim van die plaas Goedgeluk in die Lategansvlei-omgewing wes van Oudtshoorn ’n nuwe onderneming aanpak, doen hy dit wetenskaplik en met oorgawe, soos met sy saadboerdery.
Hoewel hy geen ondervinding van saadboerdery gehad het toe hy in 2011 sy plaas gekoop het nie, het Strasheim, wat as bedryfingenieur gekwalifiseer is, sy huiswerk behoorlik gedoen.
Hy het ondervinding van wildboerdery en het ook ’n kwalifikasie in natuurlewe-bestuur, maar van saadboerdery het hy ’n paar jaar gelede nie veel geweet nie.
Strasheim vertel voordat hy besluit het om die plaas te koop, het hy ’n lewensvatbaarheidstudie en baie navorsing gedoen. “Op grond van my evaluasie het ek die plaas gekoop om hoofsaaklik met saad te boer. Die plaas was ideaal daarvoor met goeie geboue, grond, water en besproeiingsinfrastruktuur.”
Toe hy en sy vrou, Romana, in April 2012 op die plaas gaan woon het, was daar egter net swakkerige lusernlande en het hy nie eens geweet hoe wortelsaad lyk nie. “Behalwe dat ek baie opgelees het, het die saadmaatskappye soos Klein Karoo Saadproduksie en Sakata my baie leiding gegee. Ek het ook gaan kers opsteek by my bure en ander saadprodusente. Ek moet sê, hulle was my baie goedgesind en hulpvaardig.”
Strasheim sê hy doen alles van meet af aan so wetenskaplik as moontlik, want “as jy nie meet nie, sal jy nie weet nie”!
Hy het al in Januarie 2013 die eerste oeste begin afhaal. Hy het in 2012 sowat 60 000 tamatieplantjies geplant. Die tamaties was bestem om drooggemaak te word. Januarie verlede jaar is ’n goeie oes van digby 120 ton afgehaal.
In Februarie 2013 het hy ’n basterskorsiesaadoes ver bokant sy verwagting gehad. “Die ontkieming was byna 100% en die saadgehalte was uitstekend.” Hy het intussen ook kersietamatie en lenteuie vir saad geplant en geoes.
“In April 2013 het ons nagenoeg 1,2 miljoen uiebolle op sowat 8 ha vir saaddoeleindes geplant asook 3 ha vir wortelsaad en 5 ha plantjies vir uiebolle – alles met die hand.
“Een ding wat ek al hoe meer besef, is dat ’n boer ’n baie besondere risikoprofiel moet hê. ’n Mens moet nie bang wees nie en jou nie laat verlam deur teëspoed nie. ’n Goeie sin vir humor help ook. “Weer speel ’n groot rol en ’n mens het geen beheer daaroor nie. Ek kan tydens droë tye besproei, maar kan nie kies wanneer dit reën nie.” Strasheim sê waterbestuur is baie belangrik. Dit is ’n beperkte hulpbron en het 24/7 aandag nodig. “Bemesting en die bestuur van peste en onkruid is uiteraard ook baie belangrik, maar dit moet wetenskaplik gedoen word. Daar is spesialiste om te vra vir hulp. Wat die weer betref, bid ’n ou maar.”
Strasheim sê die uie-saadoes wat hy so pas afgehaal het, was redelik, maar kon beter.
“In die bestuiwingstyd het die weer baie tussen warm en koud gewissel en het dit ge-reeld gereën.
“Ons wortelsaadoes was egter op die oog af baie goed. Ek wag maar geduldig vir die finale skoonmaak en ontkiemingstoetse.”
Hy sê hoewel dit ’n tyd duur om mekaar goed te verstaan en saam te werk, is hy baie tevrede met sy permanente plaaswerkers. Die seisoenwerkers is soms ’n uitdaging, maar hy reken jy moet geduld hê en gedurig planne maak soos jy aangaan.
• Nadat Strasheim destyds sy opleiding as bedryfsingenieur voltooi het, was hy by IT- en raadgewende ingenieurswerk betrokke. Hy het intussen ’n doktorsgraad in ingenieurswese verwerf en was later in die akademie betrokke as professor in bedryfsingenieurswese by Tukkies.
Hy was met wildplase en wildboerdery doenig in die Limpopoprovinsie voor die trek Klein Karoo toe. “Ek het nog altyd ’n belangstelling in wild en die teel van wild gehad.”
Die laaste aantal jare voor die “groot trek in trurat” het hy as jagondernemer en beroepsjagter ’n grootwild-jagkonsessie in Mosambiek gehad en bedryf vir grotendeels buitelandse jagters. In daardie tyd het hy ook ’n meestersgraad in natuur-lewebestuur by sy alma mater voltooi.
Strasheim is ’n ervare vlieënier en besit sy eie vliegtuig – ’n Aerostar. Hy is tans die voorsitter van die Oudtshoorn Aeroklub. ’n Baie belangrike oorweging met sy besluit om na Oudtshoorn te verhuis, was juis dat daar ’n behoorlike lughawe naby moes wees.