KLEIN KAROO SAADPRODUKSIE en hul produsente vier vandeesweek twee besondere mylpale – die vestiging van die Klein Karoo Koöperasie 70 jaar gelede met lusern as die primêre produk, en die vestiging van die saadafdeling 35 jaar gelede op 15 Augustus 1980.
Die vieringe het gisteraand afgeskop met ’n glansaand by die Surval Boutique Olive Estate en word vandag voortgesit met ’n inligtingsdag en saadsafari en vanaand afgesluit met ’n kuieraand by Brian’s Grill. ’n Spesiale koerant met inligting oor die geskiedenis van saadproduksie in die Klein Karoo is ook gisteraand aan produsente uitgedeel. Die eerste persoon wat saad in die Klein Karoo geproduseer het, was interessant genoeg ’n vrou. Sy was Emily Wannenburg, ouma van Carl Wannenburg wat groentesaad kweek op Rooiloop, die buurplaas van die familieplaas Rooirivier waar Ouma Emily die potensiaal van saadproduksie raakgesien het.
Die saadafdeling se eerste bestuurder was Rudolf Buys. Hy is opgevolg deur Johan Kotzé en sedert 1995 is David Malan die besturende direkteur.
Volgens Malan het wyle Jurie Schoeman van De Rust in verskillende stadiums ’n groot rol gespeel om ’n saadbesigheid in die Klein Karoo te vestig.
Hy vertel: “Oom Jurie Schoeman was ’n groot dryfkrag in die vestiging van die saadafdeling. Hy was ook grootliks die dryfveer agter ’n saadsending na Europa, Amerika en die Ooste in 1982 om saadprodusente betrokke te kry.”
Schoeman het ook in die middel 1990’s ’n groot rol gespeel om die saadafdeling op ’n pad te plaas wat dit laat groei het tot ’n globale rolspeler. Met ’n omset van R3,8 miljoen per jaar was dit in daardie stadium nie winsgewend nie en moes ’n keuse gemaak word – gaan die saadafdeling sluit of moet dit as ’n groeipunt beskou word. “Weer eens was dit oom Jurie wat saad as ’n groeipunt geïdentifiseer het,” vertel Malan.
En Schoeman was reg, want vandag is die omset van Klein Karoo Saadproduksie meer as 50 keer soveel as wat dit in 1995 was. In 1996 het die saadafdeling geherstruktureer in ’n maatskappy met die naam Klein Karoo Saad en in 1999 is begin met die bemarking van saad in die ope mark. Klein Karoo Saad het in twee bene verdeel: Klein Karoo Saadproduksie en Klein Karoo Saadbemarking. Laasgenoemde is egter in 2013 aan die Zeder-groep verkoop en daar is besluit om slegs op die produksie van saad te fokus. “Saadproduksie se omset maak tans 14% van die Klein Karoo Groep se omset uit, maar genereer 50% van die nabelaste inkomste,” sê Malan.
Volgens hom het verskeie boere na die terugslag met Avian Influenza in die volstruisbedryf, met saadproduksie begin en het dit die hoofkomponent van hul besigheid geword. “Boere kan van min gewasse dieselfde potensiële inkomste kry as van saad. Hulle kwoteer in Euro en dollar ekwivalente terme,” sê Malan. Hy sê die feit dat die Klein Karoo se reënval hoër in die winter is en laag in oestyd, maak dit ’n gebied waar saad so suksesvol geproduseer word. “Goeie wynproduserende gebiede is interessant genoeg dikwels ook die gebiede waar goeie kwaliteit saad geproduseer word.”
Die saad uit die Klein Karoo voed vandag mense oor die hele aarde. Dit word wêreldwyd uitgevoer met van die belangrikste bestemmings in veral die Ooste, Europa en die VSA.“Saad is in ’n groot mate die drywer van voedselsekuriteit in die wêreld,” sê Malan. “Daar is tans sowat sewe biljoen mense op die aarde. Na raming sal daar in 2050 sowat 10 biljoen mense op die aarde wees wat groot uitdagings bied vir die tempo waarteen kos geproduseer word.”