Deur Liesel le Roux
BOERE wat in die De Rust-omgewing uiesaad kweek, staar reuseverliese in die gesig nadat bye nie soos gewoonlik in November die uieblomme bestuif het nie. Die gebied val rofweg tussen Oude Muragie, verby Rooirivier tot by Barandas.
Baie van die boere het hul hoop gevestig op ’n suksesvolle uiesaad-oes nadat die voorkoms van die H5N2-virus groot druk op die volstruisbedryf geplaas het.
Mnr Piet Lodder, bestuurder van Agri Klein Karoo, sê die uiesaad-boere se verliese beloop miljoene rande.
Volgens mnr David Malan, hoofbestuurder van Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) het ’n ongelukkige sameloop van omstandighede klaarblyklik daartoe aanleiding gegee dat bye vir ’n tydperk van sowat twee tot drie weke in November nie die uie-blomme wou bestuif nie.
Dit wil voorkom of onder meer die goeie reën tussen April tot September veroorsaak het dat die uieplante se wortelstelsels nie diep genoeg gevestig was om vog te vind toe ’n hittegolf tussen 5 en 8 November temperature laat styg het nie. Die uieplante het verwelk waarna die bye dit begin vermy het. Daar is ook gevind dat baie bye vir ’n tydperk buite hul kaste saamgepak gesit het en nie gewerk het nie – waarskynlik as gevolg van hittestres.
Bye was egter wel aktief in die veld en veral op die ghwarriebosse, met kaste wat vol heuning is.
“Hierdie is ’n ramp wat baie verder gaan as net die boere. Dit raak ook die ekonomie van die hele dorp en werksgeleenthede vir die werkers op die plaas,” sê Malan.
Volgens Malan is dit die eerste keer in die geskiedenis dat so ’n ramp uiesaadboere tref en is dit daarom baie onwaarskynlik dat dit in die toekoms weer sal gebeur.