DIE Klein Karoo is ‘n globale rolspeler op die gebied van die verbouing van groentesaad en word as een van die primêre groentesaadproduksiegebiede in die wêreld erken, sê mnr Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van Landbou, in ‘n toespraak wat hy voorberei het vir ‘n inligtingsdag vir groentesaadprodusente verlede Vrydag by die Oudtshoorn Proefplaas.
Die inligtingsdag is deur Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) gereël. By die geleentheid het KKSP ook erkenning gegee aan produsente wat presteer het.
Omdat Van Rensburg inderhaas na Frankryk moes gaan, kon hy nie die inligtingsdag bywoon nie en is die toespraak deur dr Ilse Trautmann, direkteur tegnologie: navorsing- en ontwikkelingsdienste by die Wes-Kaapse departement landbou aangebied. “U ding mee met die groot produsente in die wêreld. U is nou ‘n globale groentesaad-rolspeler en u uitstaande kwaliteit raak u handelsmerk. Ek weet dat u hierdie Klein Karoo-handelsmerk grond op ‘n uitstekende klimaat, uitstaande produsente en vennote, uitstaande ervaring, uitstaande diens en advies en dat u kwaliteit altyd eerste stel,” het Trautmann gesê.
Trautmann het in die toespraak verwys na 12 strategiese doelwitte wat die Wes-Kaapse regering gestel het om die beste streekregering in die wêreld te word. Vier van die doelwitte is regstreeks by landbou betrokke. Hierdie doelwitte is:
- Ekonomiese groei en ontwikkeling: Landbou is die ruggraat van die ekonomie in die Wes-Kaap met 150000 werksgeleenthede op plase en sowat 40% van alle uitvoere uit die provinsie;
- Hulpbronbewaring van veral water en grond. Interdepartementele taakspanne skenk aandag aan belangrike aspekte soos klimaatsverandering, waterbestuur, besoedeling en afvalbestuur, biodiversiteitsbestuur en landbougrondbestuur;
- Armoedeverligting; en
- Landelike ontwikkeling: Die provinsiale regering werk tans saam met nasionale en plaaslike regering aan die eerste landelike ontwikkelingsprojek in die Wes-Kaap by Dysseldorp.
Trautmann het boere na ‘n byeenkoms op 10 November in Worcester genooi waar die Wes-Kaapse regering oor die vier doelwitte met landbou wil praat.
“Sonder u samewerking en ondersteuning beteken hierdie pogings niks nie. Die regering benodig u insette sodat ons beter en meer geskikte dienslewering kan bied,” het sy gesê.
FOTO:
Tydens ‘n inligtingsdag wat Vrydag (15 Oktober) deur KLEIN KAROO Saadproduksie vir groentesaadprodusente by die Oudtshoornse Navorsingsplaas aangebied is, is erkenning gegee aan produsente wat verskillende kategorieë presteer het. Agter van links is mnre Pieter Schoeman, voorsitter van Klein Karoo Saadproduksie wat die pryse oorhandig het, Rian Verwey (wenner in die afdeling OP Uie geel/wit 1 – 5 ha), Hennie Grové van Angeliersbosch Boerdery (OP uie geel/wit 5 ha +), Stefan le Roux (wenner in die afdeling beet), Danie Schoeman van Exelsior Trust (OP Lenteuie), Henry Coetzee van Mahoebe Eiendomme (wortels 5 ha +) en David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie. Voor van links is Jannie Lategan (F-1 Lenteuie), Francois Potgieter (Rooi Uie) en Dawid du Preez (F-1 Uie) van Dawid en Bertus Boerdery.