DIE Wes-Kaapse regering beskou landbou nie bloot as ’n opheffingsprojek nie, maar as ’n baie belangrike sektor in die Wes-Kaapse ekonomie, het dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van finansies, Dinsdag by Agri Wes-Kaapse inligtingsvergadering by die proefplaas op Oudtshoorn gesê.
Hy het bygevoeg dat grondhervorming belang-rik is, maar gewaarsku dat as dit nie reg gedoen word nie, kan dit die landbou vernietig. Hy het die kritiek-belangrike rol van landbou vir voedselsekuriteit beklemtoon.
Volgens Meyer het die Wes-Kaap die beste rekord van grondhervorming van al die provinsies in Suid-Afrika. “Dit is ’n strategiese bate.”
Meyer het na vyf strategiese doelwitte van die Wes-Kaapse regering verwys waarvan die groei van landbou en agriverwerking, wat 80000 werksgeleenthede in die Wes-Kaap skep, deel is. Hy het genoem dat te veel onnodige regulasies en “red tape” die landbou kan kniehalter en Agri Wes-Kaap versoek om met die departement van landbou saam te werk om dit reg te stel.
Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, het ’n mosie by Agri Wes-Kaap ingedien oor die probleme met skrootmetale en skrootwerwe, wat ook in die landbou tot groot verliese ly.
Agri Wes-Kaap en ander belanghebbendes moet die probleem ondersoek en indien nodig hulle beywer vir beter beheer oor dié handel en selfs wetgewing oor die koop en verkoop van skrootmetale.
Hy het genoem dat opnames aangetoon het dat tot sowat 500000 Suid-Afrikaners ’n bestaan maak uit skrootmetale.
Van die oplossings wat hy voorstel, is beter wetstoepassing en dat die verkoop van duur metale soos koper, aluminium, brons, vlekvrye staal deur die publiek aan skroothandelaars verbied moet word. Net ondernemings wat met hierdie metale werk, moet toegelaat word om dit te verkoop, het Potgieter gesê. Boere ly groot skade deurdat besproeiingstoe-rusting van aluminium op groot skaal gesteel word, het hy gesê.
Dereck Engelbrecht, administrateur van die Nasionale Luserntrust, het gesê satansbos, wat tot onkruid verklaar is, is ook in die Klein Ka-roo ’n reuseprobleem.
Hy het gesê boere is laks met die uitroei van satansbos ondanks dat hulle spuitstof daarteen gratis kan kry. Hy het gesê dat boere mag nie lusernhooi wat satansbossaad bevat, verkoop nie, want dit dra by tot die verspreiding van die geharde onkruid.
Hy het gewaarsku dat plase se hekke gesluit kan word weens satansbos. Dit kan ook gebeur dat boere nie hul plase sal mag verkoop nie as daar te veel statansbos op die plaas voorkom. Die prys van wat dit gaan kos om die satansbos uit te roei, kan van die plaas se verkoopprys verhaal word.
FOTO:
Agri Wes-Kaap het Dinsdag ’n inligtingsvergadering by die Oudtshoorn Proefplaas gehou as deel van sy reeks streekkongresse. Onder die belanghebbendes wat daar was, is van links Dr Peter Johnston, klimatoloog by die Universiteit van Kaapstad wat oor klimaatverandering gepraat het, Joey Potigeter, voorsitter van Agri Klein Karoo, Laubscher Coetzee, streeksverteenwoordiger van Agri Klein Karoo by Agri Wes-Kaap, dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van finansies, Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, en Carl Opperman, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap.