Tisha Steyn
Oudtshoorn – Klein Karoo Saadproduksie vier vanjaar die 35ste bestaansjaar van die saadafdeling van Klein Karoo Koöperasie, wat vandag bekend staan as Klein Karoo (Edms) Bpk.
“Klein Karoo Saad is in 1945 gevestig en is die afgelope 35 jaar spesialiste in die produksie en handel van saad,” het David Malan, uitvoerende bestuurder van Klein Karoo Saadproduksie tydens ‘n glansgeleentheid ter herdenking van die mylpaal gesê.
Sowat 250 van KKSP se saadprodusente het die geleentheid by Surval Olyfboetiek buite Oudtshoorn bygewoon waar erkenning gegee is aan die rol van produsente in die sukses van die maatskappy. “Sonder jule produksie sal ons nie ‘n besigheid he nie,” het Malan gesê.
£100 vir ‘n pond vere
Swepie le Roux, een van die plaaslike pionier-saadprodusente, het tydens die geleentheid die boerderygeskiedenis in die Klein Karoo toegelig: van die toekennig van die eerste plaas deur die VOC aan vryburger Fred van Eeden in Attakwaskloof 80 jaar nadat Jan van Riebeeck in die Kaap geland het, tot die eerste vere van wilde volstruise wat in 1826 uitgevoer is en waarvoor £2 pond vir ‘n pond vere betaal is; die bloeitydperk van die veremark in die 1900’s toe £100 vir ‘n pond vere en tot £500 vir ‘n pond uitsoekpluime en £200 vir ‘n broeivoëlpaar betaal is.
Toe die volstruisbedryf in 1914 met die Eerste Wêreldoorlog teenspoed kry, het die boere begin soek na alternatiewe landbouprodukte, soos tabak, lusernsaad, bone, erte, okkerneute, heuning en … bene!
In daardie stadium het saadproduksie in die Klein Karoo reeds begin en Emily Wannenburg van Rooirivier word allerweë beskou as ‘n pionier onder saadkwekers. Die Wannenburgs se saadproduksie was so suksesvol dat dit die bure ook aangespoor het om groentesaad te kweek. Die Wannenburgs het met of sonder die hulp van die Joodse sakemanne op Oudtshoorn saad uitgevoer.
Die destydse regering het ook die boere aangespoor om groentesaad te produseer en in 1943 het die destydse departement van landbou ‘n saadinspeksiediens as onderafdeling van die tuinbou-afdeling begin. In dieselfde jaar is ‘n Saadsertifiseringskema vir groentesaad geskep, en die jaar daarna die SA Saadkwekersorganisasie wat in 1947 vervang is met die SA Saadbeurs, waarin die Wannenburgs ook ‘n rol gespeel.
Behoefte aan ‘n eie onderneming
Die Klein Karoo Koöperasie se Saadafdeling het op 5 April 1945 tot stand gekom omdat boere ‘n behoefte aan ‘n eie saadhandelaar ervaar het. In daardie stadium was die Tweede Wêreldoorlog in volle swang en invoer van saad was ongereeld en het uiteindelik tot stilstand gekom.
Die Klein Karoo Koöperasie het so sterk gegroei dat daar op ‘n direksievergadering in Augustus 1980 besluit is om ‘n spesialis-saadafdeling, Klein Karoo Saad, te begin.
Klein Karoo Saadproduksie het in 1996 tot stand gekom toe Klein Karoo Koöperasie ‘n groep van maatskappy geword het.
“Vandag lewer KKSP 50% van die Klein Karoo Groep se wins, en uie is steeds die belangrikste groentesaadgewas per oppervlak en monetêre waarde,” sê Malan.
Volgens hom word groentesaadproduksie deur verskeie faktore beinvloed, soos politieke en ekonomiese krisisse in die Midde-Ooste en Europa, klimaats-verandering en krimpende hulpbronne soos bewerkbare grond en water.
“Al hierdie uitdagings bied egter fenomenale geleenthede vir groei in die groentesaadbedryf,” sê Malan. “Voedselsekerheid bly ‘n kwessie en ons moet ons beskikbare grond en water benut om maksimaal volhoubaar te produseer.”
Volgens Malan berus volhoubaarheid op markverwante produksie en produksie-kapasiteit. “Ons moet seker maak dat ons die risiko’s, soos kontaminasie en isolasie, wat al belangriker word vir ons buitelandse kliënte, korrek bestuur.”
Saadsafari:
Die glansaand is opgevolg met ‘n oggendprogram waartydens prof Kobus van der Walt van die Universiteit van Potchefstroom en dr John Purchase van Agbiz die boere toegespreek het. Van der Walt het die onrusbarende waterkrisis in die land toegelig, terwyl Purhase die regering se grondhervormingsbeleid en veral die onrealistiese eise van grondplafonne en die 50/50 verdeling van plase bespreek het.
In die namiddag is ‘n toer na plase in die omgewing van Calitzdorp onderneem waar medeprodusente kon sien hoe uitstaande produsente sukses behaal.
Kassie
Wenners wil ons wees
Tydens die glansgeleentheid is die top-groentesaadprodusente vereer vir hul prestasie. Wenners en naaswenners in verskillende kategorieë is:
Kategorie Wenner Naaswenner
Uie F1 Johan Kriel Viskuil Trust
Wit uie F1 JFJ Boerdery
Wortels F1 Vanniek Boerdery Fanie Zaayman Boerdery
Lente-uie F1 Voëlgesang Boerdery Delport Broers Boerdery
Uie: Oop Geel(-5ha) Husselman Boerdery La Motte Boerdery
Uie: Oop Geel (5ha+) HR Schoeman Mahoebe Eiendomme
Wit Uie (oop) Vrisgewaagd Landgoed Lemoenshoek Plase
Rooi Uie (-5h) Scholtzkloof Boerdery Damascus Boerdery
Rooi Uie (5ha+) Groeneweide Boerdery Mahoebe Eiendomme
Lente-uie Oop Jan J Lategan Excelsior Trust
Preie Delport Broers Boerdery Fanie Zaayman Boerdery
Wortels (Oop) Anthonie Troskie AGT Schoevers
Beet CJ le Roux Delport Broers Boerdery
New Bunching uie Rooikloof Boerdery Sontana Boerdery
Nuwe toetreder van die jaar Anthonie Troskie
Opkomende saadprodusent Casidra Waaikraal Boerdery
Foto’s: Tisha Steyn
Jannie Lategan van Lategansvlei in sy New Bunching uieland.
Bye-aktiwiteit in die uieland laat ‘n produsent se hart lekker klop.
Oom Jannie in die ou tabakstoor waar hy die uiesaad droog en uitwan.
Vanjaar se wenners in die verskillende kategorieë groentesaadproduksie is tydens ‘n glansgeleentheid by Surval Olyf Boetiek Hotel aangekondig. Foto: Verskaf