Deur Garnett Wicomb
Die jaarlikse finansiële resultate van die Klein Karoo Groep is tydens die algemene jaarvergadering verlede Vrydag (12 November) aan produsente bekend gemaak.
Klein Karoo Internasionaal (KKI), Klein Karoo Saadproduksie (KKSP), Klein Karoo Saadbemarking (KKSB) en Klein Karoo Handel, Meganisme en Dienste, filiale van die houermaatskappy Klein Karoo Beperk (KKB), het in geheel uitstekende prestasies gelewer. Volgens mnr Piet Kleyn, voorsitter van Klein Karoo Beperk, is hy hoogs tevrede met die groep se resultate.
“Ons besighede het ondanks uiters moeilike ekonomiese omstandighede wêreldwyd daarin geslaag om hul resultate te verbeter. Die wisselkoers met die rand wat sterk bly teen die vernaamste geldeenhede het ‘n wesenlike negatiewe invloed op die groep se resultate.”
Kleyn sê die afdeling Klein Karoo Handel, Meganisasie en Dienste is hoofsaaklik afhanklik van die besigheid van sy produsente en ander landbourolspelers.
Hierdie afdeling het deur nuwe inisiatiewe omset en wins laat groei teenoor verlede jaar se uiters moeilike landbou-omstandighede. Mnr Stefan Terblanche het die boere en sy span bedank vir hul volgehou ondersteuning. “Sonder die ondersteuning van die boeregemeenskap sou ons nie sulke goeie resultate behaal het nie.”
KKSP onder die leiding van mnr David Malan het ‘n totale omkeerstrategie geïmplementeer en die vrugte hiervan word nou gepluk. Kleyn het Malan en sy span gelukgewens met dié uitsonderlike prestasie. Hierdie maatskappy het hoër uitbetalings op alle gewasse aan boere deur die loop van die jaar gedoen, wat ‘n positiewe invloed op die boerdery-omgewing gehad het.
KKSB se strategie om ‘n volle produkreeks van saad en kunsmis in ontwikkelende lande aan te bied werp baie goeie vrugte af. Dié maatskappy het ook goeie resultate gelewer.
Die maatskappy het ‘n wesenlike markaandeel in die Suid-Afrikaanse en Afrika-mark. Die buitelandse filiaal is nou gevestig as ‘n stabiele voorsiener in die wêreldmark.
Mnr Johan Stumpf, besturende direkteur van KKI, het by die jaarvergadering gesê KKI was ook die afgelope jaar onder groot druk wat betref verkope van volstruisvleis en -vere. Ten spyte hiervan het KKI, Suid-Afrika se grootste verwerker van volstruisprodukte, steeds uitsonderlik presteer. Volstruisvleisverkope, KKI se grootste bron van inkomste, het die afgelope jaar met 29% gestyg, het Stumpf gesê. As gevolg van die luukse aard van die produk het leer ook ‘n moeilike jaar beleef.
Volgens Stumpf is vleisverkope verantwoordelik vir meer as 60% van produsente se inkomste en is altesame R384miljoen verlede jaar aan lede betaal. Dit is 8,2% meer as die vorige jaar. “KKI se aandeelhouers kan in die algemeen tevrede voel met die prestasie wat die afgelope jaar bereik is. Ons maatskappy is deur ‘n moeilike tyd met die verskillende rasionaliseringsaksies. Ek is van mening dat die maatskappy reg geposisioneer is en verwag nog goeie resultate in die toekoms.”
Hy het egter benadruk dat daar altyd risiko’s rondom volstruisvleis is. “Die reëls is streng en ‘n verbod is altyd moontlik. Ons moet voortdurend op ons hoede wees vir siektes soos voëlgriep,” het hy gesê. Volgens Kleyn is die groep ernstig oor die toepassing van BEE. Verskeie maatskaplike projekte is suksesvol onder die vaandel van die Klein Karoo Agri Besigheidsentrum (KKABC) aangepak. “Klein Karoo is verbind om selfs ‘n groter rol in die gemeenskap te speel aangesien die groep se welvaart ‘n wesenlike invloed op die totale plaaslike gemeenskap het.”