DIE afgelope boekjaar was die beste jaar wat Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) beleef het sedert die totstandkoming van die maatskappy meer as 30 jaar gelede, het die hoofbestuurder, mnr David Malan, by ’n Galadag op 10 Oktober by die Oudtshoorn Navorsingsplaas gesê.
“Nie alleen is die hoogste omset in die geskiedenis behaal nie, maar ons het ook daarin geslaag om die hoogste wins ooit te realiseer.
Volgens Malan kan dié uitstekende resultate toegeskryf word aan die toename van saadproduksie in die gebied. Uitbetalings aan kwekers het met 30% gestyg, terwyl saadpryse en -waarde ook toegeneem het.
Verskeie faktore het daartoe bygedra dat die wins in dié boekjaar meer as die omset toegeneem het. Hieronder tel ’n toename in die gebruik van vars groente en ’n wêreldwye tekort aan sekere saadtipes. Onstabiele klimaattoestande het tot saadtekorte elders gelei, terwyl meer stabiele omstandighede in Suid-Afrika tot groter produksie hier gelei het. Plaaslik was produksie suksesvol as gevolg van ervare produsente, professionele raad aan kwekers en ’n goeie infrastruktuur op plase en in die fabriek. Die ontwikkeling van nuwe kultivars het ook tot hoër saadpryse gelei.
Volgens Malan was dit egter nie ’n goeie jaar vir wortelsaadproduksie nie. “Terwyl die uieagtige sade in die algemeen baie goeie opbrengste gelewer het en die gehalte baie goed was, was die wortelsaadgehalte baie swak. Die probleem kan grootliks toegeskryf word aan omgewingsfaktore wat insluit ’n besondere hoë voorkoms van Lygusspesies tydens aktiewe groei, baie lae temperature tydens bestuiwing en selfs reën net voor oestyd.”
Malan sê die droë toestande wat voorgekom het tydens die fases van blom, saadset en oes het baie bygedra tot die goeie resultate wat met uieagtige sade behaal is. “Die winter het egter langer aangehou as gewoonlik en soos in die res van die wêreld is klimaatsverandering ’n realiteit waarmee ons rekening sal moet hou. Die goeie reën onlangs skep watersekuriteit vir die volgende seisoen of twee. Dit is baie waardevol.”
Malan het aangedui dat ’n aanvullende betaling aan kwekers gemaak gaan word. “Hierdie aksie asook die voortgesette steun aan ons produsente bevestig die produsentvriendelike benadering van KKSP. Ons uitgangspunt bly dat ons geen besigheid sonder toegewyde, ervare produsente het nie. Daarom bly dit vir ons belangrik dat ons produsente en die besigheid se resultate positief bly.”
Malan sê KKSP is nou in ’n goeie posisie om te diversifiseer, te groei en uit te brei. “Ons gebruik nou die geleentheid om die reeks produkte en die terreine uit te brei waarop ons produseer. Dit beteken dat ons oor ’n wye gebied proewe van verskillende tipes en soorte groente, blomme en kruie vir saadproduksie onderneem. Ons vertrou dat verskillende nuwe opsies hieruit sal voortspruit om ons in staat te stel om steeds verder te groei en nuwe geleenthede te ondersoek en te ontwikkel.”
FOTO:
By die Galadag van Klein Karoo Saadproduksie (Edms.) Bpk. is die beste saadkwekers van 2011/12 met toekennings vereer. Voor van links is Jaco Olivier van Vrisgewaagd (wenner: oop bestuifde uie – geel en wit – 5 ha+) en Louis Zaayman (naaswenner: rooi uie). Agter van links is Jannie Lategan (wenner: oop bestuifde uie – geel en wit – 0 tot 5 ha), Jan Lategan (wenner: lente-uie – oop bestuif asook wenner: lenteuie – F1 baster), Hendrik Schoeman (naaswenner: oop bestuifde uie – geel en wit – 0 tot 5 ha), David Malan (hoofbestuurder van Klein Karoo Saadproduksie), Stephan le Roux (wenner: beet), Dawid du Preez van Dawid en Bertus Boerdery (wenner: rooi uie), Manie du Plessis van Sontana Boerdery (wenner: new bunching), Hennie Grové van Angelierbosch (naaswenner: oop bestuifde uie – geel en wit – 5 ha+), Willem Serfontein van EWS Boerdery (naaswenner: wortels), Derick Human (wenner: preie), Deon Barkhuizen (naaswenner: F1 basteruie), Le Roux van der Westhuizen (wenner: wortels), Boeta Schoeman (naaswenner: new bunching), Jannie Lategan (jnr) van Kamnatieloop (naaswenner: lente-uie – F1 baster). Afwesig: Hendrik Schoeman (naaswenner: oop bestuifde uie – geel en wit – 0 tot 5 ha), Danie Conradie (wenner: F1 basteruie), Hennie Schoeman (naaswenner: lente-uie: oop bestuif) en Bert Looch (naaswenner: preie).