|
Die byesiekte genaamd Amerikaanse Jongbysiekte (American Foulbrood Disease (AFB)) is in die Wes-Kaap gediagnoseer aan die begin van 2009. Hierdie siekte val die jongby (larwes en papies) van die byekolonie aan en veroorsaak ’n gaping in die herplasing van die werkerbye in ’n kolonie. Die gevolg hiervan is dat die werkerbye se getalle afneem tot op ’n stadium waar die bye se uithou- en oorlewingsvermoë as gevolg van die oorweldigende hoeveelheid siek jongby te gronde gaan.
IMPAK VAN SIEKTE NOG NIE BEPAAL Kaapse heuningbye is taai en toon baie hoë vlakke van oorlewing selfs in swaar siekte-omstandig-hede. Dit is egter op hierdie stadium onmoontlik om die impak van AFB te bepaal omdat die siekte nog net die afgelope paar maande voorkom. Dit is ook moeilik om te spekuleer wat die invloed hiervan op ons bye in die toekoms kan wees. Wat wel bekend is, is dat AFB ‘n geweldig aansteeklike siekte is en dat dit bye en die byeboer geweldig kan knou. Dit geld ook vir die res van die wêreld. BYE SE KONDISIE BELANGRIK VIR PRODUKSIE Wanneer bye vir heuningproduksie of vir bestuiwingsdienste vir groentesaad- en/of vrugteproduk-sie aangewend word, moet hulle optimaal gesond wees. Bykolonies moet sterk in getal en goed bevolk wees met goeie hulpbronne in die korf om sodoende ’n optimale produksiesiklus en bevolkingsdinamika te verseker. Byekolonies wat vir bestuiwing van saad aangewend word, moet lae vlakke van gestoorde heuning en stuifmeel in die korf beskikbaar hê, terwyl daar hoë vlakke jongby moet wees. Die jongby benodig geweldig baie nektar en stuifmeel wat vanuit die teikengewas versamel moet word. Byeboere kan hier help deur die bye met koolhidraatstroop (bv. suikerstroop met minder as 30% suiker) voor en tydens die bestuiwing te voer. HOE VERSPREI AFB? Bye is nie altyd korfgetrou nie. Hulle dryf weg na ander korwe in die omgewing – veral wanneer korwe dieselfde lyk en/of in dieselfde rigting in soortgelyke omgewing staan. Só versprei die siekte na ander korwe. VOORKOM Só DIE verspreiding van AFB - Plaas byekorwe meer lukraak om so die verspreiding van die siekte te voorkom.
- Draai ingange van korwe in verskeie rigtings - byekorwe hoef nooit na die teikengewas “te kyk” nie.
- Korwe moet maklik van mekaar onderskei kan word. Plaas merkers by die korwe of verf korwe verskillende kleure. Rotse, struike en selfs gekleure lappe kan as merkers by die korwe aangebring word wat drywery sal verminder.
Bye wat stres is nie doeltreffende werkers nie. Om stres te verminder, plaas die korwe dienooreenkomstig van die grond af sodat die koue of hitte en miere of ander peste en plae nie die bye lastig val nie. Maak seker dat geen ander stres faktore die bye op enige manier knou nie.
‘n Kunsmatige tekort aan blomme of ‘n té groot hoeveelheid bye vir die hoeveelheid kos wat deur die blomme voorsien word, klink teoreties na die beste oplossing vir bestuiwing. Indien die bye egter begin verhonger sal hul werkverrigting nie optimaal wees nie. In teendeel, die bye sal dan mekaar se heuning probeer steel. Diefstal van dié aard kan uiteraard ook AFB na ander korwe versprei. Bye werk dan ook nie op die blomme waar hulle behoort te werk nie. Gebruik dus die aanbevole getal bye per hektaar.
Die gebruik van antibiotiese middels in die korf om hierdie siekte te probeer beperk, is onvanpas. Dit word op geen enkele manier – behalwe vir wetenskaplike navorsing – voorgehou as ‘n oplossing vir hierdie siekte nie. Daar bestaan baie goeie en wetenskaplik gefundeerde argumente hiervoor. Antibiotika is ook nie geregistreer vir gebruik op hierdie siekte nie.
Ten opsigte van wetgewing oor die beperking van die verskuiwing van bye, bestaan daar tans steeds nie beheermaatreëls nie.
Byeboere kan baie advies gee oor hoe om die verspreiding van die siekte te monitor en te beheer. Byeboere sal baie baat vind om deel te word van die bestaande bye-bedryfsnetwerk wat gereelde nuusbriewe uitstuur, telefoniese bystand lewer, en hulle kan deel wees van ‘n e-pos-besprekingsgroep om op hoogte te bly van die nuutste tendense in die huidige krisis-tydperk wat die byebedryf beleef. Byeboere en produsente word uitgenooi om skakeling op te neem by enige van bostaande skakelbesonderhede.
Geskryf deur Robert Post en verwerk deur Karen du Plessis Navrae: Pieter Burger, tel: 044 203 5259 of Robert Post by tel: 021 971 1022
Medianavrae: Karen du Plessis KLEIN KAROO SAADPRODUKSIE (Edms) Bpk Tel 044 203 5247
|