Boere moet betrokke wees!
Van links: Chris Barnard, Fertigation Acadamy; Dr Piet Grobler, Klein Karoo Saadbmarking; Pieter le Roux, Spoedwel; Dr. Jan Jacobs, Humefert Manufacturing; Lourens Conradie, Eskom; en David Malan, besturende direkteur: Klein Karoo Saadproduksie. 

 

KLEIN KAROO SAADPRODUKSIE het op 6 Augustus ’n baie interessante en insiggewende inligtingsdag oor volhoubare groentesaadproduksie by Langenhoven Gimnasium se klubhuis gehou.

Mnr David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, het gesê die inligtingsdag vir groentesaadprodusente was baie suksesvol en is deur meer as 100 produsente van die Klein Karoo en die res van die Wes-Kaap, die Noord-Kaap, Karoo en Boland bygewoon.

Die sprekers was dr Jan Jacobs wat oor volhoubare biologiese grondbestuur gepraat het; mnr Pieter le Roux, wie se voorlegging gehandel het oor die praktiese implementering van ’n biologiese bestuursprogram tov bemesting, siekte en plae; dr Piet Grobler, wat oor die voorkoming van siektes deur gebruik van optimale bestuurs- en produksiepraktyke en toestande gepraat het; mnr Lourens Conradie wat lig gewerp het op die hantering van bolle en saad ná die oes en die droging en berging daarvan; en mnr Chris Barnard wat gesels het oor drupbesproeiing en die bestuur daarvan op verskillende grondsoorte.

Barnard het gesê produsente in die Klein Karoo het uitstekende grond met baie kalsium. “Die produksie op nuwe grond is hoog, maar daarna neem dit jaarliks af omdat die grond verhard.

Hy het aanbeveel dat onder meer wisselbou toegepas word om te verhinder dat grond verhard. Hy het ook aanbeveel dat produsente gereeld grondmonsters trek om dit te laat toets om tekorte in die grond te identifiseer.

Volgens Barnard is genoeg humus in die grond uiters belangrik en is daar meestal ’n tekort aan humus in die grond. Hy het voorgestel dat produsente dit moet oorweeg om bv lêhoendermis vir bemesting te gebruik as dit kostedoeltreffend gedoen kan word. Hy het verduidelik hoe wetenskaplik uitgewerk kan word hoe hoendermis se prys met die prys van kunsmis vergelyk kan word en wat die voordele van hoendermis is.

Barnard het gesê daar moet nie volgens ’n program besproei word nie, maar volgens die behoeftes van die plant. “As water reg geskeduleer word, is daar besparings. As daar die regte hoeveelheid besproei word, kan nie net op water bespaar word nie, maar ook op kunsmis.” Volgens Barnard kan kunsmiskoste tot 40% besnoei word deur nie te veel te besproei nie.

Hy het beklemtoon dat die beste manier van plaagbeheer is om ’n gesonde plant te kweek deur die regte hoeveelheid water en bemesting aangesien gesonde plante nie deur plae aangeval word nie. “’n Plant wat wat onder stremming is, is lekker vir insekte en diere,” het hy gesê.

Wat besproeiing betref, het Barnard gesê as “ons nie meet nie sal ons nie weet nie”. “Produsente moet self na hul landerye gaan en op soveel moontlik plekke gereeld meet hoeveel vog daar in die grond is sodat hulle weet hoeveel en waar om te besproei.

“’n Goeie boer is betrokke. Hy moet sy gewasse ken, die grondtipes, die klimaat - is verdamping hoog of laag, en die behoeftes van die plant,” het hy gesê.

Hy het gesê grond is lewendig. “Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor hom.

Van die praktiese skeduleringswenke wat hy gegee het, is: kontroleer diepte van vog, neem grondtipes in ag, bepaal besproeiingstyd en grawe profielgate.

- deur Schalk le Roux, Hoorn.

Medianavrae:
Karen du Plessis
Tel 044 203 5247 of 073 409 6658
E-pos: kduplessis@kleinkaroo.com
 

Farmer Login



Weather Search:
Search for your City/Town


Banner