Groentesaadproduksie - beslis ’n winsgewende en volhoubare boerdery

KLEIN KAROO SAADPRODUKSIE (EDMS) BPK in Oudtshoorn fokus op die vermeerdering van hoëgehalte groentesaad vir internasionale kliënte. Die maatskappy bied professionele tegniese- en produksie-advies aan hul kliënte en kwekers. Hul beskik oor ’n internasionaal-geakkrediteerde saadskoonmaak- en laboratoriumfasiliteite.

“Vir produsente in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap is daar goeie geleenthede om groter klem op saadproduksie te plaas. Die kweek van saad is beslis ’n winsgewende bedryf met baie moontlikhede en ’n rooskleurige toekoms. Saadprodusente verskaf nie net saad nie - hulle dra ook grootliks by tot voedselproduksie en voedselsekuriteit vir die wêreldmark. Daar sal dus altyd ’n vraag na goeie gehalte groentesaad wees.

Die feit dat Suid-Afrika in die suidelike halfrond geleë is, maak van KLEIN KAROO Saadproduksie ’n strategiese voorsiener van saad vir maatskappye in die noordelike halfrond sodat hulle weer aan hul kliënte saad reg deur die jaar kan verskaf,”David Malan, besturende direkteur van KLEIN KAROO Saadproduksie.

Wat maak saadproduksie ’n aantreklike landbouvertakking?

Saadproduksie is ’n eksklusiewe, winsgewende boerdery wat produsente deel maak van ’n besonderse uitvoerbedryf. Produksie geskied volgens ’n kontrak met internasionale kliënte en Dollar- of Euro-pryse word vooraf ooreengekom. Dit is ’n ideale boerderyvertakking wat ’n bydrae lewer om produsente se inkomstebasis te vergroot.

Elemente wat volhoubare saadproduksie verseker

Landbouprodusente wat in ’n produksiegebied met ’n winterreënval geleë is, asook gebiede waar droë toestande tydens oestyd voorkom, kan verseker wees van goeie saadproduksie.

Groentesaadproduksie vereis toegewyde aandag, goeie grond, geïntegreerde bemesting-,  siekte- en plaagbeheerprogramme, voldoende water en toepaslike besproeiingsmetodes sowel as 'n grondige kennis van produksiemetodes, meganisasie en oespraktyke. Wanneer hierdie fasette in plek is, kan groentesaad volhoubaar geproduseer word.

Geïntegreerde benadering tot groentesaadproduksie

Dit is belangrik dat saadproduksie ’n integrale deel moet vorm van die wisselboustelsel op die produsent se plaas. Hetsy dit mielies-, koring-, sonneblom-, wingerd- of lusernverbouing is. Hiermee word ook bedoel dat biologiese aspekte van grondgehalte ge-optimaliseer moet word en dat ’n meer omgewingsvriendelike benadering tot siekte- en plaagbeheer gevolg moet word deur die afwisseling van die gebruik van chemiese en biologiese praktyke.

Minimum vereistes vir toetrede tot die saadbedryf

Groentesaadproduksie verg nie ’n groot kapitale uitleg nie. Die infrastruktuur waaroor voornemende saadprodusente moet beskik is ’n stoor vir die droging van saad en berging van plantmateriaal; ’n uitvryfmasjien; en seker die belangrikste van alles: die wil om ’n sukses te maak.

Produksie-advies aan produsente deurlopend beskikbaar

KLEIN KAROO SAADPRODUKSIE se bekwame produksieadviseurs staan produsente, wat op kontrakbasis saad produseer, met raad en daad by gedurende elke stap van die produksieproses. Die produsent bepaal saam met die adviseur watter variëteit die geskikste is vir die bepaalde omgewing. Aangesien verskillende groentegewasse verskillende produksiemetodes vereis, verleen adviseurs hulp met die totale produksieproses wat die saai, plant en oes van saad insluit. Hulp met waterskedulering, oes- en na-oeskontroles sowel as onkruid-, siekte- en plaagbeheer word ook deur KLEIN KAROO SAADPRODUKSIE se tegniese adviesspan verleen. Produsente wat reeds saad vir KLEIN KAROO Saadproduksie kweek getuig van uitstekende diens en professionele benadering tot saadproduksie.

Gewasse wat geskik is vir saadproduksie

KLEIN KAROO SAADPRODUKSIE fokus veral op die kweek van uie, lenteuie, preie, beet, wortels, radyse en lusern vir saaddoeleindes. Alle groente-moedersaad word gratis aan uitgesoekte produsente verskaf vir vermeerdering volgens ’n ooreengekome kontrak. 

Ekonomiese regverdigbaarheid

Na gelang van die gewas wat geplant word en opbrengste wat deur die produsent behaal word, kan netto winste van soveel as R40 000 tot R120 000 per hektaar realiseer word.

KLEIN KAROO Saadproduksie bied op 6 Augustus ’n produsente-inligtingsdag in Oudtshoorn aan wat handel oor die volhoubaarheid van groentesaadproduksie. Alle landbouprodusente wat belangstel om hierdie geleentheid by te woon is baie welkom. Kontak vir Ellen Smith by tel: 044 203 5259 of epos: esmith@kleinkaroo.com vir meer inligting.

Medianavrae:
Karen du Plessis
Tel 044 203 5259
e-pos: kduplessis@kleinkaroo.com

 

Farmer Login



Weather Search:
Search for your City/Town


Banner